Advies, Inligting en Meer
Versameling van artikels en ander goed wat ek oor die jare geskryf het
Geestelike Gevolge Van Mishandeling
Category: Verhoudings
Date: 2014-04-28
Likes: 312
Nadelige gevolge van emosionele mishandelingWaar emosionele mishandeling plaasgevind het in die huis van gelowige ouers en
VerhoudingsNadelige gevolge van emosionele mishandeling
Waar emosionele mishandeling plaasgevind het in die huis van gelowige ouers en godsdiens gebruik is om te manipuleer en te misbruik, is God voorgestel in die konteks van die Almagtige wat net kyk waar Hy kan straf uitdeel en beskuldig. ‘n Wese wat as ‘n misbruiker optree. Waar gesag in die familie gebruik is om te onderdruk, kan die Hoogste Gesag – God – negatief beleef word.
Dit is veel meer skadelik omdat God, die bron van ware liefde en troos, nie gesien en beleef word as die Weg na heling en herstel nie. Skuld en skaamte kan die volwassene dring om steeds deur die godsdienstige rituele te gaan, maar lewende verhouding met God word nie gehandhaaf nie.
Deel van terapie is om die slagoffer opnuut te help ontdek wie God werklik is, dat Hy nie die negatiewe karikatuur-beeld van die mens is wat ander misbruik nie.
EMOSIONELE MISHANDELING DEUR VERWAARLOSING
Hierdie mishandeling kom deur afwesigheid, ongeergdheid, gebrek aan optrede, verwaarlosing. Dit is net so skadelik soos enige ander vorm van emosionele mishandeling. Die wond is toegedien deur afwesigheid van dit wat verwag en benodig word.
Emosionele mishandeling deur ongeërgdheid vervang die verwagte met stilte, ‘n dowe oor, ‘n gedraaide rug. Totale onttrekking van een persoon aan die ander. Vir die een of ander rede, weerhou die misbruiker emosionele intimiteit van die slagoffer.
‘n Kind wat geïgnoreer word, kan begin met aandagsoek-gedrag, wat negatiewe resultate waarborg. Alhoewel dit tot eie nadeel strek vir die kind, is die werklike motivering ‘n behoefte aan aandag. Selfs al is die ouer se reaksie negatief, is hy tog gedwing om aan die kind aandag te gee.
Niemand hou daarvan om geïgnoreer te word nie. Die persoon wat hierdie tipe mishandeling beleef het, leef met die besef dat sy/haar teenwoordigheid nie eens ‘n rimpeling op die water in die wêreld van die misbruiker maak nie en alles net om homself draai. Die tragiese is dat die misbruiker gewoonlik ‘n persoon is van wie die slagoffer desperaat liefde en aandag nodig het.
Kinders verstaan dat grootmense hulleself met belangrike dinge besig hou. Wanneer ‘n volwassene betrokke is in die lewe van die kind, kommunikeer hulle aan die kind dat hy/sy belangrik is. Wanneer hulle onttrek en niks saam met die kind doen nie, kommunikeer hulle aan die kind verwerping.
Al sou kinders materiële voorsiening in oormaat beleef, het hulle positiewe intimiteit van beide ouers nodig. Wanneer daar nie in emosionele behoeftes voorsien word nie, sukkel kinders om normaal te ontwikkel. Hulle steek dikwels vas by ‘n seker vlak van ontwikkeling. Emosioneel verwaarloosde kinders is so honger vir emosionele bande, dat hulle sonder onderskeiding van moontlike nadeel of gevaar, aan enige vreemdeling of volwassene sal vashou, tot hul eie nadeel.
Dit word ‘n deur na 'n negatiewe persoonlikheid en gaan dikwels gepaard met kompulsiewe gedragspatrone soos herhalende kop kap, byt, krap of sny. So fundamenteel is die emosionele behoeftes aan ‘n intieme band, troos en stabiliteit, dat verwaarloosde kinders oorgaan na onbehoorlike, skadelike en selfvernietigende gedrag as ‘n substituut en in ‘n poging om te oorleef.
Die afstand-versorger
Hierdie ouers gee hulle kinders huis, voedsel en klere. Hulle fisieke behoeftes word vervul. Hulle het ‘n plek om te slaap, al is dit dikwels alleen. Hierdie kinders mis selde ‘n maaltyd, selfs al is dit oorskietkos in ‘n leë huis. Hulle trek goed aan, alhoewel daar niemand is om hulle te te komplimenteer op hul voorkoms nie.
Afstand-versorgers se kinders weet gewoonlik presies waar hulle is of het ten minste ‘n goeie idee. Hulle daag egter net sporadies op in die kinders se lewens.
Soos kinders grootword, groei hulle natuurlik en normaal in die proses van onafhanklikheid-wording van hul ouers. In gesonde verhoudinge gee ouers hul kinders die nodige leiding en ondersteuning om hul eerste treë na buite te gee, maar bly beskikbaar as hul kinders hulp nodig het. Vir klein kinders is die eerste treë fisies. Soos hulle groei, word meer en meer van hierdie treë emosioneel van aard. Dit is gevaarlik om te dink dat net omdat die kind fisies in staat is om van die ouer af weg te beweeg, hy/sy emosioneel ook in staat is om emosioneel verwyder te wees.
Afstand-versorgers onttrek hulle emosioneel van hul kind(ers). Dit kan wees as gevolg van ongeërgdheid of openlike besluit om die kind te forseer om dinge alleen te doen. In beide gevalle is hierdie optrede mishandeling, omdat dit die kind die emosionele anker ontsê van waar hulle hul eie identiteit kan begin ontdek. Soms kom hierdie gedrag al vanaf die babadae van die kind. Ouers wat grootgeword het sonder ‘n diep emosionele band, mag sukkel om te verstaan of nie in staat wees om goeie, gesonde emosionele bande met hulle eie kinders te smee nie.
EFFEK VAN EMOSIONELE MISHANDELING OP SELFBELEWENIS
Enige vorm van mishandeling is ‘n aanval op ‘n persoon se self belewenis. Dit minag en beheer die person deur woorde of aksies, dit minag die slagoffer en verhef die misbruiker. Verskeie negatiewe effekte op self belewenis geassosieer met emosionele mishandeling, is as volg:
• Lae selfbeeld
• Gebrek aan selfvertroue
• Opgee van behoeftes
• Seksuele wangedrag
• Eensaamheid
• Mislukking-sindroom
• Perfeksionisme
• Onrealistiese skuld
• Krisis-georiënteerd
• Onverwerkte woede en wrokke
Lae selfbeeld
Mense met ‘n gesonde selfbeeld is onafhanklik denkers wat nie sonder meer iemand anders se woord gebruik as motivering vir hul optrede nie, maar evalueer die opinies van ander teen hul eie aanvoeling van wie hulle is en wat hulle graag self wil doen. Hulle ignoreer nie ander se insette nie, maar hulle gee nie outomaties aan ander se gedagtes meer waarde as aan hul eie nie.
Die misbruiker kraak mettertyd die slagoffer se selfpersepsie af in ‘n poging om sy/haar gedagtes en aksies te beheer. Iemand met lae selfpersepsie gee outomaties oor aan die begeertes en eise van ander omdat hulle hul eie vermoë om 'n goeie oordeel te vel, wantrou. Iemand met gesonde selfbeeld word nie maklik in hierdie posisie geplaas nie, veral nie wanneer die misbruiker hom/haar in ‘n onderdanige posisie probeer kry nie. Deur die slagoffer se selfbeeld af te kraak, koppel die misbruiker die slagoffer aan homself met ‘n onsigbare ketting van vrees en twyfel. Vrees vir die misbruiker en twyfel in eie vermoë om selfstandig en apart die misbruiker te funksioneer en die misbruiker hou dus die slagoffer afhanklik van homself.
Gebrek aan selfvertroue
Saam met ‘n gebrek aan selfpersepsie kom gewoonlik ‘n gebrek aan selfvertroue. Jy vind dit moeilik om besluite te neem. Na elke besluit wat jy geneem het, betwyfel jy jouself, verander selfs verskeie kere van besluit, gee selfs in onder ‘n ander persoon se "oortuigende" argument, selfs al druis dit in teen jou eie aanvoeling. Jy mag moontlik doelbewus werksomstandighede soek wat nie jou belewenis van wat jy in staat is om te bereik, sal bedreig nie – gevolglik kan jy maklik ‘n werk soek wat nie jou potensiaal ontgin of vermoëns uitdaag nie, maar jy kies wat jy maklik kan doen, uit vrees vir mislukking. Jy mag selfs ‘n werk kies waar jy min met ander mense in kontak hoef te kom – dit gee jou ‘n gevoel van beheer oor wat jy kan verwag in jou werk, maar dit daag jou nie uit om tot volle potensiaal te groei nie.
Oordrag van behoeftes
Almal het ‘n basiese behoefte om spesiaal en gewaardeer te voel, te voel ons het waarde en om goed te voel oor onsself. As gevolg van mishandeling, word hierdie behoefte nie vervul nie.
Elke persoon kies in sy/haar uniekheid ‘n eie metode om die vakuum te vul. Verskillende vorme verslawings, kompulsiewe gedrag, dieëtafwyking, ens. ‘n Werkolis byvoorbeeld, voel hy het geen waarde in homself buiten dit wat hy bereik nie. As jou grootste sin van selfwaarde gekoppel is aan dit wat jy doen in plaas van wie jy is, het jy jou behoefte om waardevol te voel, oorgedra na ‘n terrein wat nie sal kan beantwoord aan die behoefte nie. As jy oorgegee is aan ‘n verslawing, kan dit moeilik wees om te los, omdat dit ‘n leemte in jou lewe vul, al is dit net tydelik. Hierdie leemte spel juis die behoefte om te weet dat jy spesiaal is, net omdat jy jy is.
Seksuele wangedrag
Die vermoë om seksuele reaksie by ‘n ander persoon uit te lok, is ‘n vorm van beheer. As jy emosioneel mishandel was, mag die gevoelens van hulpeloosheid, oorwonnenheid en gebrek aan beheer, jou besonder vatbaar maak vir die versoeking om jou seksualiteit te gebruik om mense om jou te beheer.
Jou waarde as individu is nie afhanklik van jou seksuele aantreklikheid of vermoëns nie. Opwekking van seksuele drange in ander is nie ‘n standaard vir effektiwiteit in die wêreld nie. Ons is veel meer as seksuele wesens en om gesond te funksioneer het ons nodig om met ander op ‘n veel wyer as net seksuele front te kommunikeer.
Eensaamheid
Eensaamheid is ‘n konstante gegewenheid in die lewens van die slagoffer van emosionele mishandeling. Eensaamheid is nie-gekoppel aan alleenwees nie. Eensaamheid is die gebrek aan ware kontak. Emosionele mishandeling verhinder ‘n mens se vermoë om betekenisvolle kontak met ander mense en belangriker selfs, met onsself op te bou.
Mislukking-sindroom
Hierdie slagoffers glo onbewustelik hulle is nie goed genoeg om sukses te bereik nie en werk dikwels onbewustelik saam aan hul eie mislukking. Diegene wat wel iets bereik, het ‘n knaende gevoel dat hulle nie regtig verdien wat hulle bereik nie, asof hulle gekonkel het om te kom waar hulle is.
Hulle voel hulle verdien nie hul sukses nie en leef met ‘n konstante vrees om uitgeskel te word vir wat hulle glo hulle is: ‘n klug, totaal onbevoeg vir hul taak. Hulle vrees hul sukses was bloot ‘n klug en dat die “waarheid” hulle uiteindelik sal inhaal en dat hulle in vernedering sal misluk. Hulle vind soms dat hulle “saamwerk” daaraan om hul eie mislukking te bewerk en dat die werklikheid van ‘n mislukking draagliker is as die konstante dreigement in hul gemoed van naderende neerlaag. Hulle kan gewoonlik nie verduidelik hoekom hulle hul eie mislukking aanhelp nie.
Die tragedie is dat diesulkes dikwels hoogs bevoegde, hoogs kreatiewe mense is, wat hul eie sukses betwyfel – en dit omdat iemand langs die pad, waarskynlik in hul kinderjare of verhouding, hulle oortuig het dat hulle niks werd is nie en bestem is tot mislukking.
Onrealisties Skuld
Onrealistiese skuld is die gevolg van emosionele mishandeling, wat jou gedurig laat sê: “dit is alles my skuld” en jy bedoel alles. Jy glo so vas dat jy die oorsaak is van die wêreld se probleme, dat jy ‘n neerdrukkende skuldlas van werklike en verbeelde tekortkominge saamsleep. Die misbruiker het die slagoffer vir elke denkbare en verbeelde probleem en fout geblameer wat hy/sy teëgekom het. Jy moes by herhaling hoor hoe jou gedrag die lewe van die misbruiker versuur het, so jy begin skuldig voel oor elke negatiewe ding wat met enige iemand om jou gebeur. Saam met hierdie skuld kom die vrees dat jy kan aanhou om dinge te doen wat diegene om jou kan seermaak of te na kom. Jy vra gedurig verskoning en glo nie eintlik die terugvoering van: “toemaar, dit is nie jou skuld nie”. Diep binne bly jy oortuig dit is tog jou skuld.
Krisis-georiënteerd
Emosionele mishandeling vind ook plaas wanneer die misbruiker die slagoffer gedurig in ‘n posisie plaas waar die misbruiker gered/uitgehelp moet word. Jy word weereens vertel dat dit wat verkeerd geloop het, jou skuld is, daarom is dit jou verantwoordelikheid om reg te maak. Jy probeer desperaat om die misbruiker se guns weer te wen, deur elke probleem van die misbruiker op te los.
Die kind wat deur sy moeder emosioneel verwaarloos was, mag vind dat die enigste manier om saam met haar te wees, is om haar maat of konfidant te word, wat ‘n ongesonde verhouding tot gevolg het.
Verhoudings Kategorie
- 0814599255
- frank@coetzee.biz