Advies, Inligting en Meer
Versameling van artikels en ander goed wat ek oor die jare geskryf het
Mishandeling En N Kind Se Ontwikkeling
Category: Verhoudings
Date: 2014-04-28
Likes: 217
Vertroue vs Wantroue (0-1 jaar). n Gevoel van vertroue ontwikkel uit die baba se verhouding met sy
VerhoudingsFase 1: Vertroue vs Wantroue (0-1 jaar)
‘n Gevoel van vertroue ontwikkel uit die baba se verhouding met sy ouers – veral sy moeder wat meestal die primêre versorging waarneem. ‘n Baba leer om ander te vertrou indien daar in sy fisiese en emosionele behoeftes voorsien word. Dit behels bv. Dat hy gevoed word indien hy honger is en hy liggaamlike kontak en warmte van ‘n liefdevolle ouer ervaar. Die baba glo dan dat die wêreld en die mense rondom hom betroubaar is en dit word die eerste boublok waar hy ook positiewe gevoelens oor homself koester. Die warmte van die ouer-kind verhouding stel die kind in staat om frustrasies en angs te verdra.
Wanvertoue ontwikkel indien:
Die baba se basiese behoeftes aan versorging en vertroeteling nie bevredig word nie deur byvoorbeeld ouers in 'n giftige verhouding.
* ‘n Kind wat verlies ervaar wanneer hy van sy ouers geskei word of hulle nie daar is vir hom nie
* ‘n Kind wat sy ouers assosieer met negatiewe gevoelens soos pyn
* ‘n Kind wat in die pre-verbale fase getraumatiseer word deur fisiese, emosionele of seksuele mishandeling
As daar nie in die baba se behoeftes voorsien word nie, ervaar hy die wêreld as ‘n plek vol pyn, frustrasie en onsekerhede. Die baba het geen besef van tyd nie en die pynlike gevoelens skyn vir ewig te wees sonder ‘n verwagting dat dit tot ‘n einde sal kom.
Nie al die gevoelens en gedrag is altyd teenwoordig nie. Dit verskil van individu to individu en hang af hoe pynlik die ervarings was.
Fase 2: Selfstandigheid vs Skaamte en Twyfel (1-3 jaar)
Gedurende hierdie fase ontwikkel die kind ‘n verstand en wil van sy eie, en leer hy hoe om dinge vir himself te doen. Dit is tot sy voordeel indien die ouers hom toelaat om ‘n seker mate van vrye keuses uit te oefen. Terselfdertyd word ‘n mate van selfbeheersing aangeleer. Die kind wat selfstandigheid ontwikkel leer om meer beheer oor sy lewe uit te oefen en ontwikkel ‘n gevoel van selfvertoue in sy vermoë om keuses te maak.
Skaamte en Twyfel ontwikkel wanneer:
* Geen aanmoediging ontvang word vir pogings tot onafhanklikheid nie
* Daar nie in die kind se emosionele behoeftes voorsien word nie
* Die kind se onafhanklike optreding beperk word en sy pogings gereeld op mislukkings uitloop.
* Ouers die kind emosioneel mishandel en oorheers sonder inagneming van sy eie identiteit.
* Ouers nie die kind teen seerkry beskerm nie of selfs die kind beseer
Hierdie kind kan intense gevoelens van angs, wanhoop en depressie ervaar. Hy kan ook ‘n gevoel van verlatenheid en verlies aan vertroue in homself en andere beleef.
Fase 3: Inisiatief vs Skuld (3-5 jaar)
Inisiatief spruit voort uit ‘n gewillingheid om dinge te probeer en die selfvertoue om kanse te waag. ‘n Kind wat inisiatief ontwikkel kan teen die ouderdom van 4 jaar voel dat die wêrld inherent ‘n goeie plek is. Modellering van volwassenes se gedrag kom voor en die kind wil graag soos sy ouers wees. Gevoelens van jaloesie en wedywering met sy broers en susters (of portuurgroep) is normaal. Dit is ook die fase waar die verbeelding en fantasie ontwikkel en hy kan dikwels nie tussen fantasie en die werklikheid onderskei nie. ‘n Gewete begin ook ontwikkel. Gedurende hierdie periode is die kind baie skeppend. Die kind begin ook nuuskierig raak oor seksuele aangeleenthede.
Skuld ontwikkel wanneer:
* Die kind negatiewe belewenisse a.g.v. verwaarlosing, oordrewe straf, skeiding, ens. ervaar het.
* Kind se normale ontwikkeling verkeerd hanteer word en kinders skuldig voel oor bv. woede en aggressie & seksuele nuuskierigheid
* Uitermatige straf lei tot uitermatige skuldgevoelens as daar verwag word dat die kind goed of soet moet wees. Dit veroorsaak dat kinders nie lus is om nuwe dinge aan te leer nie
* ‘n Kind kan veral sensitief wees vir vreesaanjaande situasies.
Die volgende probleme kan by kinders voorkom wat skuld ontwikkel het, naamlik:
* Langdurige angs
* Verwarring oor wat hy mag en nie mag doen nie
* Verbreking van toilet roetine deur enurese en enkoprese
* Vermoë tot kommunikasie neem af en die kind kan begin hakkel of stotter
* Onvermoë om te speel. Geen verbeeldingspel is aanwesig nie. Die ontwikkeling van ‘n gewete word vertraag
Fase 4: Werkywer vs Minderwaardigheid (6-12 jaar)
Die volgende groot taak vir die kind is om werkywer en produktiwiteit aan te leer. Die kind moet aanpas in ‘n wêreld waar lees, skryf en samewerking met ander belangrik is. ‘n Kind wat tot dusver positief ontwikkel het, wil graag leer en opdragte goed voltooi.
‘n Dieper bewussyn van reg en verkeerd ontwikkel ook deur na die ouers as rolmodelle te kyk. Die vader figuur is veral belangrik. Die seuns idealiseer hul vaders en die dogters hou hom ook as model voor. Gedurende hierdie fase word die kind ook van ander se gevoelens bewus.
Kenmerke van minderwaardigheid:
* Die kind voel ontoereikend aangesien hy nie die nodige vaardighede aangeleer het nie.
* Die kind kan ook ander doelbewus seermaak om sy eie tekorkominge te verberg
* A.g.v. sy negatiewe beeld oor homself ag hy homself of ander nie van waarde nie.
* Regressie na ‘n vroeë stadium waar hy veilig gevoel het, kom algemeen voor.
* Angs manifesteer in woede uitbarstings, diefstal en leuens
* Die kind is bang vir verwerping en verwerp dikwels die mense naaste aan hom voor hulle dit aan hom kan doen
* Die kind sukkel om sy emosies te verbaliseer.
Fase 5: Identiteit vs Rolverwarring (12-18 jaar)
Die adolessensie word gesien as ‘n tyd waarin die vorige aangeleerdhede van al die fases (1-4) weer ter sprake kom en opgelos moet word. Indien vorige take soos vertroue nie by die kind gevestig is nie, is hierdie stadium vir die adolessent meer problematies. In hierdie fase probeer die adolessent sy eie identiteit ontdek. Vrae soos “Wie is ek en waarheen is ek oppad” moet beantwoord word. Dit is ook vir die kind belangrik om te weet dat hy aanvaarbaar is. Die fisiese veranderinge van die jong persoon se liggaam het ook ‘n beduidende uitwerking op sy algemene gedrag. Die kind wat in ‘n gelukkige en stabiele huis groot geword het, kan makliker hierdie probleme die hoof bied.
Tipiese gedrag wat op rolverwarring dui:
* A-sosiale neigings. Die kind onttrek hom van gesinsaktiwiteite en die portuurgroep speel ‘n groter rol
* Weier om te werk
* Kom rusteloos voor en is verveeld
* Rebelsheid en in konflik met almal
* Dagdromery help die kind om van probleme te ontsnap
* Angstige gevoelens mag tot gevolg hê dat die adolessent met drank en dwelms eksperimenteer
* ‘n Verhoogde emosionaliteit ontstaan en die adolessent is voortdurend in konflik met homself
* Die adolessent kan probleme met sy seksualiteit ondervind wat kan wissel van geïnhibeerdheid to promiskuïteit.
DIE EFFEK VAN MISHANDELING EN VERWAARLOSING OP DIE BINDINGSPROSES
Binding is die liefdevolle band tussen twee individue wat bestaan deur tyd en ruimte en wat hulle emosioneel aan mekaar bind. Dit is belangrik dat ‘n kind ‘n binding met die volwassenes in sy lewe vorm want dit:
* Gee hom vertoue in ander en homself
* Lê die fondasie vir die kind se ontwikkeling op alle vlakke van sy lewe
* Help hom om sy vrese en angs te hanteer
* Verminder negatiewe gevoelens soos jaloesie.
Bindingprobleme ontstaan wanneer ‘n kind:
* Nog nooit ‘n binding gevorm het nie.
* Die binding verbreek is as gevolg van die ouers se dood of die verwydering vanuit die ouers se sorg.
* Vanweë gebrekkige binding met ouers.
Sodanige bindingsprobleme ontstaan wanneer
* Die ouer reageer nie op sy kind se behoeftes nie
* Die kind se behoefte na vertroeteling word ontmoedig
* Die kind word verwerp
* Die ouer straf die kind se afhanklikheidsbehoeftes
* Die ouer is inkonsekwent
* Die ouer verwar sy eie behoeftes met sy kind s’n
* Die ouer gebruik sy kind om in sy eie behoeftes te voorsien
* Die kind se onafhanklikheid word ingeperk
* Die ouer fluktueer tussen onderwerping aan die kind se behoeftes en dominerende gedrag teenoor die kind.
Verhoudings Kategorie
- 0814599255
- frank@coetzee.biz